Liberalisme

John Locke word as die grondlegger van liberalisme beskou

Liberalisme (afgelei van die Latynse liber "vry"; liberalis "vryheidsliewend, vry, vryheids-") is 'n grondhouding binne die politieke filosofie en 'n historiese en huidige stroming wat 'n vrye politieke, ekonomiese en sosiale maatskaplike orde nastreef. Liberalisme het sy historiese wortels in die 17de eeuse Engelse rewolusies en die sentrale beginsels van die Verligting. Die sentrale doelwit van liberalisme is die vryheid van die indiwidu, veral teenoor die staatsgesag of enige ander sosiale, politieke of geestelike dwang. Naas konserwatisme en sosialisme word liberalisme by die drie groot politieke ideologieë gereken wat in die 18de en 19de eeu in Europa gevorm is.

Die vier belangrikste beginsels van liberalisme is

  • die reg op selfbeskikking wat op gesonde verstand en insig baseer,
  • die beperking van politieke mag,
  • die vryheid teenoor die staatsgesag, en
  • 'n selfregulerende vryemarkstelsel in die ekonomie wat op privaat eiendom gebaseer is.[1]

Vandag is liberalisme allesbehalwe 'n geslote wêreldbeskouing, maar eerder 'n soort sambreelterm vir soms uiteenlopende politieke en ekonomiese gedagtes en strominge, soos byvoorbeeld uit die groot verskeidenheid liberale politieke partye in Europa blyk. Opvallend is ook die verskil tussen Europese en Amerikaanse liberalisme. Die laasgenoemde politieke stroming word veral vereenselwig met die erkenning van burgerregte, openbare beheer oor ekonomiese invloed en mag, en maatskaplike vooruitgang.[2]

  1. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb): Liberalismus
  2. bpb: Liberalismus

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search